Kyk ‘n bietjie by ‘n venster uit
Jy hoef nie te sien wat jy eintlik sien
Kyk wat gebeur buite die venster ruit
Speel met jou verbeelding ‘n keer of tien
Kyk hoe Anna die boerseun soen
Hoe klik tant Miem se tong geanfronteerd
Kyk hoe lag oom Jan vir wat sy doen
Hoor hoe sê hy, “Dis tog nie verkeerd.”
Kyk hoe frons sy op vir hom
Hoe speel die glimlag om haar mond
Dan soen hy haar sommer stom
Kyk weg, voor hul sien jy’s hier rond
Kyk hoe speel die bure se honde
Hoe hap hul speels na mekaar
Hoe lag hul amper met hul monde
Hoe hul hulle liefde openbaar
Kyk hoe speel die seuntjies met ‘n bal
Hoe kom die seuns en pa’s dan later
Hoe lagdie seuntjies met elke val
Selfs al moet hul dan skoon kom later
Kyk hoe sit die meisies op die gras
Hoe speel hul met hul ma’s se hare
Hoe maak hul dit los en dan weer vas
Hoe versier hul dit met blomme en blare
Kyk hoe gesels die jonge dames
Hoe giggel hul as die seuns so speel
Hoe skerts hul of hul dapper of skaam is
Hoe droom hul oor hom wat hul hart gaan steel
Kyk die vreugde van ‘n normale dag
Hoe die liefde om elkeen draai
Hoekom sit jy hier binne en wag?
Jy’t ook liefde om te saai